Skip Navigation Links
Dagboek
Fondsinsameling
SMS Boodskap
Gebedsversoeke
Projek Prisma
Dringende hulp benodig
Kursusse
Brandpunt
Interessante skakels
 DIE VIERING VAN DIE NAGMAAL
 
DIE BETEKENIS VAN DIE NAGMAAL

Die Here het self die nagmaal ingestel. Daarvan getuig Paulus: "Ek het van die Here ontvang wat ek ook aan julle oorgelewer het: Die Here Jesus het in die nag waarin Hy oorgelewer is, brood geneem en, nadat Hy God daarvoor gedank het, het Hy dit gebreek en gesê: `Dit is my liggaam; dit is vir julle. Gebruik dit tot my gedagtenis.' "

Net so ook het Hy ná die maaltyd die beker geneem en gesê: `Hierdie beker is die nuwe verbond, wat deur my bloed beseël is. Gebruik dit, elke keer as julle daaruit drink, tot my gedagtenis.' "Elke keer as julle van hierdie brood eet en uit die beker drink, verkondig julle die dood van die Here totdat Hy kom."

Die nagmaal is in sy wese 'n verbondsmaaltyd, waar die verbinding tussen Christus en sy gemeente telkens vernuut word. As verbondsmaaltyd het dit die volgende betekenisse:

Vreugdefees
Die nagmaal is 'n vreugdefees in die midde van en teenoor die vreugdeloosheid van die wêreld. Die nagmaal bied 'n voorsmaak van die ewige vreugde wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam. Daarom kan ons nou reeds in dankbaarheid saam met die triomferende kerk van alle oorde en tye juig: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer." (Openbaringe 5:9, 10)

Gedagtenismaaltyd
Die nagmaal is 'n gedagtenismaaltyd. Die Here het by die instelling van die nagmaal gesê: "Gebruik dit tot my gedagtenis." In die nagmaal dink ons terug aan die lewe van Jesus, en in die besonder ook aan sy dood op Golgota. Wanneer ons die brood en die wyn sien, sien ons in ons gedagtes die hele lydensweg van Jesus voor ons afspeel: hoe Hy Homself verneder het deur die gestalte van 'n slaaf aan te neem; hoe Hy van God verlate was en uitgeroep het: "My God, my God, waarom het U my verlaat?", sodat ons nooit deur God verlaat sal word nie.

Verlossingswaarborg
Die nagmaal is 'n waarborg van ons verlossing, hier en nou. Terwyl ons die nagmaal gebruik, verseker die Heilige Gees ons van ons redding en ons verlossing. Hierdie sekerheid is nie gegrond op ons gevoelens of stemminge nie, maar op die tekens uit die hand van die Here. Daarom weet ons: so seker as wat die brood voor ons oë vir ons elkeen gebreek word, en so seker as wat die wyn voor ons oë geskink word, ja, so seker as wat ons dit met die mond eet en drink, so seker het ons saam met Jesus aan die kruis gesterf en opgestaan uit die dood en lewe ons nou reeds die ewige lewe.

Toewydingsfees
Die nagmaal is 'n toewydingsfees. Omdat ons harte van nature godefabrieke is (Calvyn), moet ons telkens bevry word om die enigste ware God te aanbid, dié God wat Homself in sy Seun geopenbaar het. In die nagmaal word ons gekonfronteer met die die vrae: Waarop sit jy jou hart? Waar lê jou hoogste prioriteite en lojaliteite? Wie roep jy aan in jou oomblikke van nood? Op wie vertrou jy? Wanneer ons die nagmaal gebruik neem ons stelling in teen alles wat 'n afgod in ons lewens sou kon wees, bely ons ons onverdeelde trou aan dié God wat nie alleen die Skepper is van die hemel en die aarde nie, maar ook die Vader van ons Here Jesus Christus.

Gemeenskapsviering
Die nagmaal is die viering van die gemeenskap met die lewende Here en met mekaar. ('n Viering van die feit dat ons 'n heelgemaakte gemeenskap is.) Deur die Heilige Gees is Christus self hier teenwoordig, en die Heilige Gees maak ons oë oop sodat ons Christus as't ware kan sien. Maar die Heilige Gees maak ons oë ook oop vir mekaar. Hy maak ons bewus daarvan dat ons lede is van een liggaam en Hy bind ons in liefde aan mekaar. Dit beteken dat ons in vergewensgesindheid, nederigheid, goedgesindheid, sagmoedigheid en verdraagsaamheid met mekaar moet omgaan. Wie die brood en die wyn van die nagmaal eet en drink, word ook geroep om die voete van ander te was. Wie eenmaal saam aan die Here geëet en gedrink het, kan nie meer in onvrede met mekaar lewe nie.

Toekomsverwagting
Die nagmaal is 'n verkondiging van ons toekomsverwagting. Wanneer ons die brood en wyn in ons hande neem en daarna kyk, kyk ons vooruit na die wederkoms van die Here, en word ons deur dié tekens van gebrokenheid daaraan herinner dat God uiteindelik alles weer sal heelmaak. Daarom is die nagmaal ook 'n fees van hoop in die midde van en teenoor die hooploosheid van hierdie wêreld. Die nagmaal bied 'n voorsmaak van die ewige vreugde wat vir ons wag by die bruilofsmaaltyd van die Lam.

Die nagmaal is dus 'n uitnodiging om ons aandeel aan die volle verlossing in Christus feestelik te vier en opnuut daarvan verseker te word; dit is 'n geleentheid om deur die tafelgemeenskap ons gemeenskap met die lewende Here en met mekaar te verdiep en so versterk te word in ons geloof, in ons getuienis en in ons toekomsverwagting.

Om nou die volle seën van die nagmaal te kan ontvang, is dit nodig dat elkeen hom in die teenwoordigheid van die Here "ondersoek voor hy van die brood eet en uit die beker drink" sodat hy nie "'n oordeel oor homself" bring nie. Ons word verplig om opnuut na te dink oor al ons sondes. Daar is sondes waar ons met gedagtes, met woorde of met dade oortree het. Daar is ook sondes van versuim, waar ons nagelaat het om die opdragte van die Here uit te voer.

Laat ons ons hieroor opreg voor God verootmoedig. Laat ons dan vas glo dat ons oortredinge vergewe is op grond van die verdienste van die Here Jesus Christus. En laat ons ernstig daarna strewe om met ons hele lewe dankbaarheid aan die Here te bewys deur in ware liefde teenoor Hom en ons medemens te lewe.
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees"