Skip Navigation Links
Dagboek
Fondsinsameling
SMS Boodskap
Gebedsversoeke
Projek Prisma
Dringende hulp benodig
Kursusse
Brandpunt
Interessante skakels
 STOF TOT NADENKE
...vir dié met 'n behoefte om rustig te raak...
 


Waar kry ek tog ‘n kerk ... ?

Ek soek ‘n kerk ...   ’n kerk wat ...

aanhou om aan God te dink. Die God wat luister en doen en gee en gee en stuur. Sy Seun stuur. En sy kerk stuur. Die God wat jammer het en nie kan vat om alleen te wees nie. Ek soek ‘n kerk wat op trek is. Wat met groot oë sien wat Jesus gedoen het.


Wat in verwondering oor God, met vreugde en met trane en met visie raaksien dat die landskap kort-kort verander. Nooit lank dieselfde bly nie. Dat daar verskillende seisoene is – tye van oorvloed en tye van skaarste. Tye van geluk en van nood en van vrede en van spanning.’n Kerk wat nie miskyk nie.

 Ek soek ‘n kerk wat groot ore het. Wat God se hartklop kan hoor en ons lande se God-nood kan hoor. Wat in sy Woord bly, in wie sy Woord bly. Wat asem ophou en luister na God, na sy Gees, na mekaar en na haar konteks.

Ek soek ‘n kerk wat groot hande het. Wat doen wat Jesus sou gedoen het. Hande wat uitgestrek bly, wat versorg en wat dien en wat nie vergoeding verwag nie en dit dikwels ook nie kry nie. ‘n Kerk wat trone en krone ingeruil het vir knieskerms en skottels. ‘n Kerk wat voete was en gesond maak.

‘n Kerk met 'n mond wat net oopgaan nadat sy geluister het. Wie se woorde oplig, die goeie Boodskap praat. Wat aanmoedig, leer, vermaan en smeek.

Ek soek ‘n kerk wat nie eenders lyk nie. Waar mense mekaar om die lyf vat en vra kom saam. Waar vreemde mense welkom is.

Ek soek ‘n kerk wat mense nie net saamvat nie. Maar wat by mense gaan sit in hulle Godsnood, in hulle kosnood, in hulle seerkrynood, in hulle sondenood. Wat by mense bly, wat onder siekes en swakkes inbuk. Wie se eie strukture en eie programme nie belangriker is as die wat hulle op die pad teëkom nie.

’n Kerk wat tussen mense en partye gaan staan, sy eie lyf as brug neersit.

Ek soek ’n kerk wat leiers het wat met passie met hulle eie lewens rondom die Here dans. In sy oog bly. Opgewonde bly loer wat hulle by Hom kan leer. Wat partykeer selfs agterstevoor, met hulle oog om Hom, die toekoms in dans.  Wie die heel tyd na Hom wys. Leiers wat hulleself en wat hulle het in verhoudings belê.

Ek soek ’n kerk wat nie bang is om foute te maak en om dit te erken nie. Wat selfs nie omgee om eers om te draai om foute te gaan regmaak nie.

Ek soek ’n kerk wat nie net medelye het nie – nie net jammer kry nie. Maar wat verandering bring. Wat nuutword en nuutmaak.

Ek soek ’n kerk wat op haar knieë bly. En wie se gebed in die eerste plek oor God gaan.

Ek soek ’n kerk wat minder praat en meer doen.

Ag ek soek ’n kerk wat in wonder met ligte voete vorentoe dans omdat haar ore weer raakgehoor het, haar oë weer raakgesien het dat sy met die God in verhouding is wat so goed geluister het, dat hulle nood Sy nood geword het, dat Hy sy Seun kon gee, Sy Gees kon stuur. En daarom met moed  en hoop die opdraendes van vandag en môre kan tegemoetgaan.  

Ek soek so ’n kerk!!

Schalk Pienaar.

[geplaas met erkenning en vergunning van eKerk]

"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees"