Tydens uitreike word daar gekonsentreer op sendeling-ondersteuning en die opheffing
van die Mapatsa-gemeente. Die opheffingswerk sluit in:
- Verspreiding van Bybels
- Evangelisasiewerk onder siekes en bejaardes
- Leiding aan moeders en kinders in primêre gesondheidsorg
- Voorbidding vir en salwing van landbou-aktiwiteite
- Verskaffing van materiële middele soos saad, landbou-implemente en voedsel
- Landbouvoorligting
- Verskaffing van leermiddele vir die skool
‘n Jaarlikse ondersteunings- en evangelisasieuitreik vind elke wintervakansie na
Mosambiek plaas. Die eerste uitreik het in 1995 plaasgevind toe NG Weltevreden die
Mapatsa-gemeente in die noorde van Mosambiek, 1 700 kilometer van ons af, aangeneem
het om te dien en te versorg. Tydens hierdie uitreik is daar gehelp om ‘n kerk op
te rig en ons help jaarliks om in hulle finansiële, geestelike en fisiese behoeftes
te voorsien.
Sedertdien het daar geweldige groei plaasgevind. By die Mapatsa-gemeente is daar
nou 'n kerkgebou, pastorie en 19 gebedshuise. Ook die groei in die getal gelowiges
het geweldig toegeneem.
Ons gemeente het ook ‘n sterk verbintenis met die Teologiese skool by Hefsiba. Hierdie
aktiwiteite verg goeie beplanning en voorbidding gedurende die jaar en die Here
is so getrou dat Hy nie skroom om hierdie aksies met genade en liefde te seën nie.
Meer oor die 2007-uitreik

Die span het bestaan uit Eddie Page, Daan & Devan Janse van Rensburg, Wilhelm
& Marietjie & Carl Schonfeldt, André & Reka van der Merwe, Henk Beekhuizen,
Nienke & Kesia Blaauw, Mri Ferguson.
Die span bedank graag die persone wat voorbidding gedoen het, padkos en etes voorberei
het en aan almal wat skenkings gemaak het. Spesiale dank vir die leen van die voortuig
en sleepwaens. Elke voertuig het 4367km afgelê sonder enige probleme.
Lees hieronder meer oor die 2007 uitreik na
Mapatsa

|
|
As daar een ding is wat 2007 uitreik na Mpatsa my geleer het , is dit dat God ons
lief het en wil seën. Al wat Hy van ons verwag is ‘n totale oorgawe en afhanklikheid
van Hom.
Nog nooit voorheen het ek die leiding van die Heilige Gees en die ingryping van
God so strek ervaar as op die uitreik nie.
Die oomblik toe ons, ons fokus verskuif het om iets vir ons medemens to doen het
die Here in ons lewens begin werk. Die Heilige Gees het elkeen van ons aangeraak,
Sy beloftes nagekom en wondwerwerke gedoen.
Dit alles het gebeur sodat ons sal besef wat dit beteken om ‘n kind van God te wees
en om Hom al die eer te gee. Ons was werklik instrumente en omdat ons bereid was
om soos klei in God se hande te wees, het Hy ons gevorm en gebruik om Sy naam te
verheerlik. God het aan ons gewys wat Sy liefde werklik is.
Ons het gegaan om die Mpatsa gemeente iets te leer en te gee. Op einde was dit ons
wat geleer is wat die liefde van God beteken. Hierdie mense het vir ons met ope
arms ontvang, toegelaat in hul huise en ons weggestuur met geskenke in die vorm
van kos.
In hul gebrek was hulle vir ons ‘n seen. Dit laat jou onwillekeurig die vraag vra:
Waarom vergader ons al die besittings om ons en verloor ons ons fokus op die Here?.
Hierdie mense het ‘n lewensvreugde wat ‘n mens nie kan miskyk nie. Dit straal uit
hulle uit en raak jou diep waar jy nodig het om te begin dink oor jou eie lewe en
waardes. Dit laat jou besef jy is op die aarde gesit om die Here te verheerlik,
alles draai om Hom.
Met die einde van die uitreik is daar ook ‘n vraag wat bly opkom, naamlik: “Here
U het U so bly bemoei met my lewe, my U liefde, wonderwerke en mense se nood gewys.
U het my geestelik laat groei soos nooit tevore nie. Waarom het U dit gedoen?. Wat
verwag U moet ek vir U doen? Wat is U wil met my lewe?
Ons kan nooit weer terugdraai en dieselfde mense wees nie. God het te ‘n werklikheid
geword. ‘n God wat omgee en Sy liefde wil uitstort op ons, as ons net bereid is
om met ‘n totale oorgawe na Hom te gaan.
2007 Uitreik sal altyd vir my uitstaan as: Die tyd waar die Here my gebede verhoor
en my genesing gegee het!.
[Mri Furguson - 2007 Uitreik]
Die uitreik na Mosambiek was vir my ‘n eerste en daarby ‘n defnitiewe hoogtepunt
in my lewe. Ek koester al jare lank die droom om iets vir my medemens te doen en
uiteindelik is daardie droom bewaarheid. Ek het ‘n plek gekry waar ek die Here kon
dien, al was my deel ook maar gering.
Vandat ek die eerste keer gehoor het dat ek kon saamgaan, was dit of die Here se
hand net alles in plek laat val het om dit vir my moontlik te maak. En hier praat
ek van net mooi alles; fondse, voertuie en ander benodigdhede en goedere het net
eenvoudig binne enkele weke beskikbaar geraak.
Die span van twaalf wat saam gereis het, het in die meeste gevalle mekaar op die
uitreik vir die eerste keer ontmoet en daar was nogal groot ouderdomsverskille tussen
spanlede.Ten spyte daarvan was die gees van samewerking tussen almal van so ‘n aard
dat alle werk sonder enige onenigheid of twispunte afgehandel kon word.
Wat my altyd sal bybly is die vriendelikheid en dankbaarheid van die mense van Mosambiek.
Al kon ons mekaar nie verstaan nie, was hulle gevoelens duidelik op hulle gesigte
leesbaar en sal hulle hartroerende sang my altyd bybly.
Vir my persoonlik was ‘n hoogtepunt van die besoek om vir John, een van die tolke
wat verlede jaar ook by die uitreik betrek was, kon wys hoe om met drade water aan
te wys by die kerkgebou. Daar is ‘n groot skaarste aan water in die omgewing.
Die ‘toevallighede’ wat deurentyd plaasgevind het, het my laat wonder of dit werklik
so toevallig was. Slegs die wil van die Here kan dinge wat vir ons verstommend of
onverklaarbaar lyk, laat gebeur.
‘n Mens kom van so ‘n uitreik af diep onder die besef van die Here se genade en
liefde. En weereens bewus van Sy opdrag om jou naaste lief te hê soos jouself
[Henk Beekhuizen - 2007 Uitreik]
My tweede jaar saam met die Mosambiek uitreikspan. Wat 'n ongelooflike tien dae
in die Wil van God. Die enigste rede vir die sukses daarvan was dat ons gedra is
in gebed deur 'n gemeente wat omgee. Dankie vir al jul gebede, sms'e en oproepe.
Daar was daagliks wonderwerke soos die Here ons gelei het, maar vier daarvan het
uitgestaan:
- Ons het 'n duisend Johannes evangelies in Chewa daar gaan uitdeel.
- Die Here het een van die spanlede volkome gesond gemaak.
- Een van die spanlede het water gewys en hulle gaan eersdaags begin met die put.
So, na drie jaar van water soek gaan hulle water by Mapatsa gemeente hê.
- Met die terugreis het die Here ons bewaar van 'n groot ongeluk met die voertuie.
Daar gaan ook 'n fiets / rolstoel gebou word op die sendingstasie vir 'n jong man
wat nie kan loop nie. Die vreugde op sy gesig toe die tolk aan hom verduidelik waarvoor
sy arm gemeet word sal baie lank onthou word.
Ons het die N.G. Gemeente in Masvingo gehelp met voorraade vir hul basaar met die
reis boontoe. Met die terugkom het ons twee nagte in die pastorie,(wat nou leeg
staan) geslaap. Vriendskapsbande is gesluit en ons sal hulle bystaan in die toekoms.
Ons is ook met die terugreis bederf deur God met 'n volmaakte reenboog en 'n spesiale
ster wat almal kon sien.
Die 2007 uitreik is van dag een af deur God beplan. Daarvan kan elkeen getuig. Ons
was maar net die instrumente in Sy groot plan.
[Marietjie - 2007 Uitreik]
"Almal vra my: 'Was dit lekker, het jy dit geniet?' Dan kom al die gedagtes
by my op, maar die woorde om presies te beskryf, ontbreek!
Dit was my eerste keer en ek wag al sewe jaar om, binne die wil van God, te gaan.
Wat 'n ongelooflike ervaring en groei in my lewe. 'n Mens kan 'n hele boek
skryf, maar wat vir my uitgestaan het, was die vreugde en dankbaarheid om ons die
Sondag weer by die kerk te sien."
"Ons het by 'n kliniek, wat onder 'n boom plaasvind gaan help. Daar word babatjies
geweeg, statistiek gehou (as daar is), pille uitgedeel en inspuitings gegee. Helen,
die klinieksuster, sou tot donker moes werk as sy alles alleen moes doen. Haar
dankbaarheid en hoe belangrik al die medikasie is, wat ons vir haar geneem het, het
alles die moeite werd gemaak.
In die gebedshuis is spieëltjies uitgedeel wat deel van die boodskap was, kraletjies
het 'n armbandjie gevorm met ook 'n boodskap daarby. Die vreugde toe die sokkerbal
kon agterbly, was groot, maar wat ons ewig sal bybly, is die gesiggies toe die lekkers
uitgedeel is.
Met ons vertrek het hulle gevra dat ons vir hulle moet bid en dit sal ons beslis
doen"
[Marietjie - 2006 Uitreik]
"Dit is met groot dankbaarheid in my hart teenoor die Here en die gemeente wat ek
terugdink aan die uitreik van 2006. Die span is 'n klein groepie wat die gemeente
verteenwoordig en ek het 'n warm gevoel ondervind om met soveel mense te gesels wat
'n passie vir die uitreik het. Die Here werk op verrassende maniere en ons
kon gereeld hiervan getuig, terwyl die reëlings in plek geval het.
My persoonlike hoogtepunt was die geestelike boodskappies wat die span na Mapatsa-gemeente
geneem het. Almal se deelname hierin het 'n band geskep wat ons altyd sal
onthou. Ons het saad gesaai wat ons weet die Here sal die groei onderneem.
Die mense van Mapatsa is gelukkig met die min wat hulle het en die waardering kan
in hulle oë en gesigte gesien word wanneer hulle ontvang. Die uitreik is 'n geestelike
ervaring en dit is lekker om vir ander te gee en niks terug te verwag nie."
[Eddie Page - 2006 Uitreik]
|