|
|
|
IZANDRI |
|
Meer oor haar... |
|
|
|
|
|
Izandri gaan haar eerste verjaarsdag by die huis vier! Lees hieronder die aangrypende verhaal van 'n baba wat 'n nuwe lewe ontvang het en die harte van baie gemeentelede geraak het. Dis 'n verhaal wat getuig dat God steeds wonderwerke verrig en dat gebed
groot krag het!
|
|
|
18-Jul-07
|
|
BAIE GELUK BENNIE & RETHA met IZANDRI se 1ste verjaarsdag! Mag God julle familie ryklik seën met gesondheid en voorspoed in die jaar wat voorlê. Van: WELTEVREDEN GEMEENTE
|
|
IZANDRI SE VERHAAL...
Hierdie dokument is ook beskikbaar in Word-formaat.
Izandri is gebore op 18 Julie 2006. ‘n Perfekte gesonde baba. Op 3 weke het sy begin
geel word. Ons was gerusgestel dat dit borsvoedgeelsig is en dat dit sal weg gaan.
Op 6 weke is sy
gediagnoseer met BILIARY ATRESIA. ‘n Baie seldsame lewer kondisie.
Kortliks, die lewer kon nie gal afskei nie, wat veroorsaak het dat die lewer homself,
en die liggaam vergiftig het, en ‘n leweroorplanting was die enigste oplossing.
Intussen het sy al ‘n operasie ondergaan om vir haar tyd te probeer wen, wat onsuksesvol
was.
Sy is na die Rooikruis Kinderhospitaal in die Kaap geneem vir toetse op voorbereiding
vir ‘n leweroorplanting. Aan Bennie en Retha is gesê sy lyk goed, en dat hulle haar
moet kry tot op 10kg (wat sy op ongeveer 18 maande sal bereik) voor ‘n oorplanting
oorweeg kon word. Dit sou nie maklik wees nie aangesien kinders met lewerprobleme
nie gewig optel nie. Sy was op daardie stadium al vir die tweede maand in ’n ry,
net 6kg.
Op 4 Januarie 2007 het Bennie en Retha skokkende nuus ontvang. Izandri se lewer
is besig om vinniger te versaak as wat verwag is en dat sy nog heeltemaal te klein
is vir ‘n oorplanting. Hulle neem haar weer na die Rooikruis toe in Februarie vir
verdere toetse. Wat dit vir hulle moeilik maak om te aanvaar dat Izandri wel siek
was, is die feit dat sy nie siek gelyk het nie. Sy is wel baie geel, maar het verder
gelag en gespeel sy net soos ‘n perfek gesonde baba. Sy het al selfs begin omrol
op haar magie wat vervag sou word, nie gou sou gebeur nie, omdat haar magie vreeslik
geswel is as gevolg van die lewer.
Vir Bennie en Retha was dit ’n geweldige moeilike tyd. “Dit is in tye soos dié wat
‘n mens jou krag van bo kry om elke dag op te staan en aan te gaan. Niks kan vooruit
beplan word nie, want jy weet nie wat die dag van môre gaan oplewer nie. Ons kan
net bid en vra vir krag en leiding. Dit help ook om te weet daar is mense daar buite
wat saam met ons bid” het Bennie en Retha aan ons gesê.
Toe gebeur die onverwagse! Maandagmiddag, 29 Januarie 2007, omtrent 4:30 het die
hoof van die Rooikruis Kinderhospitaal se oorplantingspan vir Retha geskakel en
baie rustig verduidelik dat ‘n lewer vir Izandri beskikbaar is. Die paar uur daarna
was natuurlik glad nie rustig nie. Die eerste stap was om in die Kaap te kom. Vliegkaartjies
is gereël, maar daar moes gepak word en Johannesburg se spitsverkeer is nie speletjies
nie. Die aand 20:00 is hulle op die vliegtuig met tasse bymekaar gegooi en hopelik
‘n huurmotor wat aan die ander kant wag.
Om 23:40 daag ons toe op by die hospitaal vir die operasie wat vir 4:00, Dinsdagoggend,
geskeduleer is. Al die voorbereidings is begin en hulle het die dokters gesien.
Daar was nie veel tyd om te dink en was baie gespanne met wat voorlê. Teen 4:30
was Izandri ingestoot en het die wag begin. Die dokter het hulle konstant op hoogte
gehou en skaars 6 ure later (gewoonlik neem dit 12-16 ure) was hulle besig om klaar
te maak. Die operasie het perfek afgeloop.
Toe Izandri uitkom was daar oral pype en sy op ’n ventilator. Alles het nog volgens
plan gebeur. Die eerste dag (Dinsdag) was vir herstel en sover moontlik om alles
stabiel te hou. Die Woensdag was Izandri gevat vir ‘n sonar om te sien of alles
binne nog reg is. Daar het hulle egter opgetel dat die aar vanaf die ingewande na
die lewer nie bloedvloei het nie. Dit is een van die groot risikos in die begin
en sy is reggemaak vir die teater. ‘n Bloedklont is ontdek in die operasie en verwyder.
‘n Sonar is weer gedoen, steeds geen bloedvloei, en terug operasie tafel toe. Weer
is ‘n klont ontdek en verwyder. Medikasie is gebruik om die bloed te verdun en so
bloedvloei te bevorder maar dit het weer ander komplikasies gehad dat sy maklik
aan die bloei kon gaan en nie die bloeding kon stop nie. Hulle moes dus eers wag
dat die uitwerking daarvan verminder voor hulle weer kom opereer. Nog ’n sonar is
daarna geneem – weer geen geluk.
Terug vir ‘n derde keer en na die operasie (4:00 Donderdag oggend) is besluit om
‘n paar uur te wag met die volgende sonar. Om 7:30 is dit gedoen en steeds was daar
nie bloedvloei nie. In die vierde operasie na die oorplanting, het die dokters egter
besluit om eers die sonar direk op die aar te toets, wat toe gewys het die bloedvloei
is daar. Hulle het toegewerk en besluit om verder die bloedvloei te volg deur middel
van die bloedtoetse.
Die ventilator is Donderdag afgehaal na sy baie sterk self asem gehaal het. Sy was
reeds baie op en wakker en klaar moeg vir al die bedlê. Bennie en Retha het selfs
nou en dan ’n glimlaggie gekry. Izandri het beter gevorder as wat verwag is. Een
van die driplyne in haar nek is Saterdag verwyder (na ‘n skrik sessie waar dit uitgetrek
het van al die woel en redelik gebloei het voor dit gestop is).
Sy het ook bietjie melk begin drink wat gedui het dat dinge in die regte rigting
beweeg. Sy het weer ‘n sonar gehad wat daarop gedui het dat daar wel bloedvloei
in al die are was. Dit was wel baie stadig en flou, maar dit was daar. Die medici
het gesukkel om haar bloeddruk af te hou, aangesien dit die hoogte ingeskiet het
as gevolg van die “teen-verwerping”-medikasie wat sy ontvang. Haar kateter is ook
die Sondag verwyder.
Teen 5 Februarie was Izandri verskuif uit die intensiewe sorgeenheid na die gewone
saal. Sy was steeds in ‘n kamer van haar eie want die risiko van infeksie was baie
hoog. Net die feit dat sy uit was het almal meer gerus laat voel. Sy het baie goed
gelyk en haar longe baie oefening gegee as die verpleegpersoneel naby gekom het.
Sy laat hulle goed laat verstaan hoe sy voel as hulle om haar iets doen, maar dit
was alles goeie tekens.
Izandri was baie vatbaar vir kieme en die dokter het dit baie duidelik gemaak dat
Bennie en Retha vir die volgende jaar nog op “high alert” sou wees. Izandri mag
nie naby groepe mense kom nie, ook nie iemand wat siek lyk nie en sover moontlik
net naby familie. Dit sou baie moeilik wees maar geen kanse kon gewaag word nie.
Tussen alles deur was sy nog besig om tande ook te kry - so sy eet haar vingers
en speelgoed op. Die belangrikste was dat Izandri al ’n week oppad was in haar nuwe
lewe!
Woensdag 7 Februarie was Izandri vol lewe en Bennie en Retha het hulle dae gehad
om die pype wat oor is uit Izandri se hande te hou. Donderdag het sy weer vir ‘n
sonar gegaan om seker te maak alles lyk reg. Vrydag moes sy teater toe vir ‘n prosedure
waar die pyp in haar nek sou vervang met ‘n meer permanente een in haar bors. Intussen
het die omstandighede vir Bennie en Retha so verander dat hulle geen keuse gehad
het as dat Retha in die Kaap moes agterbly om by Izandri te wees terwyl Bennie en
Benré tussen die Kaap en Johannesburg sou vlieg nie.
Die verhuringseiendomme het kontrakte van minstens ’n jaar gehad en die gastehuise
is of volgeboek of het buitensporige tariewe want dit was piekseisoen. Daar was
verblyf beskikbaar in areas verder weg maar een van die bekommernisse was veiligheid
aangesien Bennie binnekort moes terugkeer Johannesburg toe en dan moes Retha alleen
in die aande rondry. Hulle moes dringend verblyf vir Retha kry wat verkieslik naby
die hospitaal was. Toe hulle nood aan die gemeente bekend geword het, was dit asof
nog ’n wonderwerk gebeur. Binne enkele dae het iemand in die gemeente hulle gehelp!
Op Saterdag, 10 Februarie was Izandri opgeneem in die Intensiewe Sorgeenheid. Dit
het voorgekom asof sy infeksie opgedoen het. Omdat dit dadelik die lewer aantas
was die dokters oorversigtig en hulle behandel dit dadelik aggressief as daar sulke
tekens is. Sy het sleg gevoel die Saterdag aand, maar is egter Maandag terug na
haar kamer in die algemene saal en het weer gelukkig gelyk. Die infeksie het haar
bloedvlakke geaffekteer maar dit het weer opgetel. Verder het Izandri gespeel en
gelag en was sy weer op die herstelpad.
Teen 14 Februarie was Bennie terug in Johannesburg. Die afstand het alles baie moeilik
vir hom gemaak. Ouma en Benre sou die volgende dag afvlieg Kaap toe om vir ‘n kort
rukkie te kuier terwyl Bennie afgery het. Dit was 3 weke sedert Retha laas vir Benré
gesien het. Die opwinding was baie groot!
Op 22 Februarie het Izandri elke dag al hoe gelukkiger gelyk. Haar melk is verander
en die vaste kos na sekere tipes Purity. Al die bloeduitslae was egter nog baie
positief en dit het gelyk asof haar liggaam oor die infeksie van vroeër was. Dit
was baie moeilik vir die Nel-familie wat verdeel was deur ’n reuse afstand. “...maar
dit is ‘n klein prys vir alles wat sover so goed gegaan het. Nou is dit die proses
van toetse, reageer op probleme en alles so stabiel moontlik hou tot almal kan huis
toe kom” het Bennie laat weet.
Teen 9 Maart het Bennie laat weet, het hulle behoorlik ‘n rowwe tyd gehad met rondhardloop
tussen twee huishoudings en opvang by die werk. Izandri het hulle steeds verras
met hoe goed sy vorder. Sy het konstant gevorder en vir die laaste twee weke en
was hoofsaaklik gemonitor deur die bloedresultate en medikasies wat aangepas was.
Izandri het ‘n verkoue gehad, loopneus en toegetrekte bors, maar het steeds elke
dag geglimlag. “Sy draai almal om haar pinkie en dring aan om die middelpunt van
aandag te wees as iemand in die kamer is. Selfs die hoof van die hospitaal was al
een of twee daar om te sien hoe gaan dit met die vriendelike baba” het
Retha laat weet.
Daar is gehoop dat Izandri uit die hospitaal onslaan sou word, nog nie om terug
te kom Johannesburg toe nie, maar net om tuis te kon wees. Sy sou elke dag moes
teruggaan vir antibiotika en bloedtoetse, maar dit sou ’n stap in die regte rigting
wees. Dit was net vir die dokters om te besluit of hulle haar wou laat gaan met
die virus nog in haar gestel. Dit het natuurlik ander bekommernisse na vore gebring.
Aangesien haar immuunstelsel steeds swak was kon sy nie naby mense toegelaat word
nie. Dit het beteken: geen winkels nie, selfs nie eers om kruideniersware te gaan
koop nie, gesigmasker wanneer sy hospitaal toe gaan en oor die algemeen paranoies
wees oor enigiets wat sou lyk asof dit probleme kon veroorsaak.
Teen 16 Maart het Izandri egter begin diarrhea kry na die verkoue virus. Die dokter
wou haar nie ontslaan voor dit uitgesorteer was nie, en vir ‘n paar dae was dit
“trial and error” om te probeer uitvind wat dit veroorsaak het. Haar bloedresultate
het niks buitengewoon gewys nie, behalwe dat haar rooibloed telling afgeneem het.
Uiteindelik het hulle haar bottel heeltemal weggevat en haar weer binneaarse voeding
begin gee. Dit was baie teleurstellend aangesien dit ‘n tree terug beteken het.
Hulle het beplan om vir haar bloedaanvullings te gee maar gelukkig het die tellings
weer opgetel en dit was nie nodig nie. Uiteindelik het dit gelyk asof dit die melk
was wat die probleme veroorsaak het want die diarrhea het begin opklaar. Hulle het
haar terugfaseer na die melk wat sy gehad het net na die operasie. Na ‘n op en af
en somtyds traumatiese week, het dit gelyk asof alles weer gestabiliseer het.
Die groot probleem was die port wat ingeplant was in Izandri ‘n ruk gelede en veronderstel
was om dit makliker te maak om medikasie te gee en bloed te trek. Dit het egter
van die begin af probleme gegee wat gelei het tot laas naweek waar dit glad nie
meer gebruik kon word nie en dit nodig was om ‘n drip in te sit.
Die probleem is dat omdat haar are so klein is, is dit ‘n groot gesukkel om ‘n aar
te kry om te gebruik, met die gevolg dat sy omtrent twaalf steekplekke in een dag
opgedoen het en ‘n baie traumaties ondervinding vir almal was. Daar was toe besluit
om haar terug te vat teater toe om te kyk na die port en die probleem reg te maak.
Die uiteinde was dat die port heeltemal verwyder is en ‘n broviac lyn ingesit is.
Sedert die lyn gebruik is was die bloedtrek en gee van medikasie ’n plesier.
Die middag van 23 Maart is Izandri ontslaan. Al die indikators het goed gelyk. Hulle
kon nou huis toe gaan en net daagliks inkom vir die bloedtoetse en anitbiotika.
Dit was nog ‘n groot stap vorentoe. Uiteindelik was dit ‘n ander omgewing na amper
twee maande in die hospitaal en kon hulle uitsien na ‘n goeie, volledige nagrus.
Ongelukkig was dit waar die goeie nuus opgehou het. Izandri het in die week wat
daarna gevolg het, inwendig begin bloei. Toe sy vir die daaglikse besoek gegaan
het was haar stoel getoets en is bevestig daar was bloed daarin. Nie ‘n lewensgevaarlike
hoeveelheid nie, maar dit was daar. Niks kon gedoen word oor die naweek nie, so
Maandag is sy vir ‘n “scan” gevat. Dit het nie veel gewys nie behalwe dat ‘n netwerk
klein aartjies gevorm het. Dit het beteken die hoof aar na die lewer was geblok,
en die liggaam was besig om te probeer kompenseer daarvoor. Dit kon baie ander moontlike
verwante probleme veroorsaak.
Sy was die Maandag weer ingeboek in die hospitaal en reggemaak vir ‘n “scope” wat
Donderdag sou gebeur. In daardie tyd het sy ook ‘n klein bloedoortapping gekry,
maar al die ander lewer resultate het nog goed gelyk. In die “scope” is daar toe
opgetel dat een van hierdie klein aartjies begin lek het. ‘n Vloeistof is ingespuit
om die aar te seël en die bloeding te stop. Dit het gelyk asof slegs die een aar
bloei, maar daar was geen waarborg dat dit die engiste een was of dat dit nie weer
sou gebeur nie. Izandri was terug in in die hospitaal en het addisionele anitbiotika
gekry na die “scope”. Kanse dat sy binnekort ontslaan sou word was min. Vir Bennie
en Retha was dit bietjie van ‘n depressiewe week.
Hulle het besef dat die op en af nog vir ‘n tyd sou aanhou en dat hulle alles dag
vir dag sou moes vat. Bennie en Benré het Saterdag 7 April afgevlieg Kaap toe. Op
daardie stadium het dit gelyk of die probleme met die bloedvloei gestabiliseer het.
Haar bloedresultate het egter in sekere areas begin agteruit gaan. Die dokters het
eers gedink dit is ‘n lewervirus en dit so behandel.
Ongelukkig is dit ‘n algemene probleem met lewer oorplantings aangesien die virus
oorgedra word vanaf die skenker, maar dit is steeds ernstig aangesien hierdie virus
uiteindelik kanker kan veroorsaak. Die ander moontlikheid was dat sy begin het om
die lewer te verwerp, maar dit was nie seker nie. Dit het gely tot ‘n biopsie wat
11 April gedoen is om ‘n monster van die lewer te vat
sodat ‘n meer detail ondersoek
gedoen kon word oor wat besig was om te gebeur. Die resultate daarvan sou eers oor
3 dae beskikbaar wees.
Saterdag 7 April het Bennie en Retha die kans gevat om te probeer uitkom en ‘n maaltyd
te geniet terwyl haar familie daar was om te help met die kinders. Voor hulle by
die ete kon kom, was haar handsak gesteel met die kamera daarbinne. Haar identiteitsdokument,
bestuurslisensie en kaarte was gesteel en moes vervang word. Te midde van alles
moes die versekering ook nog uitsorteer word. Hulle het nie geweet wat die resultate
sou oplewer nie en waarheen hulle oppad is nie.
Uitwendig het Izandri wonderlik gelyk maar binne het sy ‘n paar ernstige bekommernisse
gehad. Alhoewel die mediese fonds voor die tyd bevestig het dat die kostes vir die
oorplanting gedek sou word, was daar baie ander kostes waarop hulle nie gereken
het nie. Die huurgeld vir verblyf, vlugte en addisionele kostes om effektiewelik
‘n tweede huis te onderhou, het baie geverg. Retha moes effektiewelik haar inkomste
prysgee om by Izandri te bly. Selfs nie in enigeen se beste begroting kan jy voldoende
voorsiening vir sulke buitengewone omstandighede maak nie.
Die bloeduitslae het uiteindelik daarop gewys dat die virus besig was om terug te
trek. Bennie en Retha was amper te bang om bly te wees aangesien dit voorheen ook
gedaal het maar weer opgetel het, maar ten minste het dit gelyk of dit daardie keer
‘n groot daling was. Die antibiotika was hopelik besig om te werk. Izandri was nou
net elke tweede dag getoets om te verhoed dat sy te veel bloed verloor word deur
die bloedtoetse. Sy het ook weer met vaste kos begin en die melk is verhoog omdat
sy nie gewig optel soos verwag nie.
Intussen het iemand Retha se identiteitsdokument en bestuurderslisensie opgetel
en aan aar gepos terwyl hulle in Kaapstad was. Nog ’n wonderwerk! Die tyd wat daarna
gevolg het tot 7 Mei was op en af. Die virus waarmee Izandri gestoei het, blyk uiteindelik
oorkom te wees en haar bloedtellings was amper terug na normaal. Sy het egter ‘n
infeksie iewers opgetel wat of maklik behandelbaar is, of na iets erger kan wys,
maar dit sou afhang van toetse wat die volgende week gedoen moes word.
Izandri se melk is verander na ‘n formule met meer proteine en energie, maar dit
verg meer werk van die liggaam om dit af te breek en op te neem. Sy het die verandering
goed gevat en konstant gewig opgetel wat gehelp het met die herstel. Na ‘n redelike
bestendige tyd is Izandri teen 1 Junie ontslaan uit die hospitaalkamer en het sy
net elke dag teruggegaan om medikasie te kry (twee keer per dag). Al die resultate
het goed gelyk. Sy was al ‘n yslike 9 kg. Die verwagting was dat dit ten minste
‘n maand sou wees voor daar gedink kon word om haar huis toe te stuur, indien nie
langer nie.
Die onstuimige tyd was baie moeilik vir die familie en hulle kon nie wag om terug
te kan gaan na ‘n bietjie normaliteit nie. Om te kon sien hoe gelukkig Izandri was,
het alles vir hulle die moeite werd gemaak. Teen 11 Julie was almal uiteindelik
terug in Johannesburg. Die dokters by die Rooikruis het besluit dat alhowel Izandri
se bloedvlakke nie presies was waar dit moes wees nie, dieselfde sorg aan haar in
Johannesburg gegee kon word.
Sedertdien was Bennie en Retha besig om op te vang met van die dinge wat agtergebly
het die laaste paar maande. Net voor Izandri ontslaan was, het die virus wat al
die probleme veroorsaak het om haar in Kaapstad terug te hou, weer opgevlam. Retha
neem Izandri elke dag na die kliniek naby hulle huis vir die drip en medikasie.
Die virus het substantiaal toegeneem sedert hulle terug is by die huis, wat aan
hulle groot kopsere gee. Afgesien daarvan, lyk Izandri perfek en is ‘n baie gelukkige
klein dogtertjie.
Bennie en Retha geniet nou elke oomblik van plesier wat Izandri vir hulle gee en
probeer vergeet van die probleme wat die virus mag veroorsaak in die toekoms. “Ons
wil graag almal bedank vir hulle volgehoue ondersteuning gedurende hierdie moeilike
tyd. Met alles wat gebeur het, is dit steeds verbasend om te sien waar ons vandag
is en hoe baie dinge in plek geval het wat nie net toeval kon wees nie. Groete.
Bennie, Retha, Benré & Izandri”
Die e-posse van Bennie en Retha kan
hier
gelees word.
Hier
is ook meer
inligting oor lewer-oorplantings.
Doen asseblief ook voorbidding vir
die volgende persone
|
Indien jy graag aan Bennie & Retha Nel 'n sms wil stuur, is
jy welkom!
|
|
|
|