Skip Navigation Links
Dagboek
Fondsinsameling
SMS Boodskap
Gebedsversoeke
Projek Prisma
Dringende hulp benodig
Kursusse
Brandpunt
Interessante skakels
 IZANDRI
Meer oor haar...

Izandri gaan haar eerste verjaarsdag by die huis vier! Lees hieronder die aangrypende verhaal van 'n baba wat 'n nuwe lewe ontvang het en die harte van baie gemeentelede geraak het. Dis 'n verhaal wat getuig dat God steeds wonderwerke verrig en dat gebed groot krag het!
18-Jul-07
BAIE GELUK BENNIE & RETHA met IZANDRI se 1ste verjaarsdag! Mag God julle familie ryklik seën met gesondheid en voorspoed in die jaar wat voorlê. Van: WELTEVREDEN GEMEENTE
   
IZANDRI SE VERHAAL...

Hierdie dokument is ook beskikbaar in  
Word-formaat.

Izandri is gebore op 18 Julie 2006. ‘n Perfekte gesonde baba. Op 3 weke het sy begin geel word. Ons was gerusgestel dat dit borsvoedgeelsig is en dat dit sal weg gaan. Op 6 weke is sy gediagnoseer met BILIARY ATRESIA. ‘n Baie seldsame lewer kondisie. Kortliks, die lewer kon nie gal afskei nie, wat veroorsaak het dat die lewer homself, en die liggaam vergiftig het, en ‘n leweroorplanting was die enigste oplossing. Intussen het sy al ‘n operasie ondergaan om vir haar tyd te probeer wen, wat onsuksesvol was.

Sy is na die Rooikruis Kinderhospitaal in die Kaap geneem vir toetse op voorbereiding vir ‘n leweroorplanting. Aan Bennie en Retha is gesê sy lyk goed, en dat hulle haar moet kry tot op 10kg (wat sy op ongeveer 18 maande sal bereik) voor ‘n oorplanting oorweeg kon word. Dit sou nie maklik wees nie aangesien kinders met lewerprobleme nie gewig optel nie. Sy was op daardie stadium al vir die tweede maand in ’n ry, net 6kg.

Op 4 Januarie 2007 het Bennie en Retha skokkende nuus ontvang. Izandri se lewer is besig om vinniger te versaak as wat verwag is en dat sy nog heeltemaal te klein is vir ‘n oorplanting. Hulle neem haar weer na die Rooikruis toe in Februarie vir verdere toetse. Wat dit vir hulle moeilik maak om te aanvaar dat Izandri wel siek was, is die feit dat sy nie siek gelyk het nie. Sy is wel baie geel, maar het verder gelag en gespeel sy net soos ‘n perfek gesonde baba. Sy het al selfs begin omrol op haar magie wat vervag sou word, nie gou sou gebeur nie, omdat haar magie vreeslik geswel is as gevolg van die lewer.

Vir Bennie en Retha was dit ’n geweldige moeilike tyd. “Dit is in tye soos dié wat ‘n mens jou krag van bo kry om elke dag op te staan en aan te gaan. Niks kan vooruit beplan word nie, want jy weet nie wat die dag van môre gaan oplewer nie. Ons kan net bid en vra vir krag en leiding. Dit help ook om te weet daar is mense daar buite wat saam met ons bid” het Bennie en Retha aan ons gesê.

Toe gebeur die onverwagse! Maandagmiddag, 29 Januarie 2007, omtrent 4:30 het die hoof van die Rooikruis Kinderhospitaal se oorplantingspan vir Retha geskakel en baie rustig verduidelik dat ‘n lewer vir Izandri beskikbaar is. Die paar uur daarna was natuurlik glad nie rustig nie. Die eerste stap was om in die Kaap te kom. Vliegkaartjies is gereël, maar daar moes gepak word en Johannesburg se spitsverkeer is nie speletjies nie. Die aand 20:00 is hulle op die vliegtuig met tasse bymekaar gegooi en hopelik ‘n huurmotor wat aan die ander kant wag.

Om 23:40 daag ons toe op by die hospitaal vir die operasie wat vir 4:00, Dinsdagoggend, geskeduleer is. Al die voorbereidings is begin en hulle het die dokters gesien. Daar was nie veel tyd om te dink en was baie gespanne met wat voorlê. Teen 4:30 was Izandri ingestoot en het die wag begin. Die dokter het hulle konstant op hoogte gehou en skaars 6 ure later (gewoonlik neem dit 12-16 ure) was hulle besig om klaar te maak. Die operasie het perfek afgeloop.

Toe Izandri uitkom was daar oral pype en sy op ’n ventilator. Alles het nog volgens plan gebeur. Die eerste dag (Dinsdag) was vir herstel en sover moontlik om alles stabiel te hou. Die Woensdag was Izandri gevat vir ‘n sonar om te sien of alles binne nog reg is. Daar het hulle egter opgetel dat die aar vanaf die ingewande na die lewer nie bloedvloei het nie. Dit is een van die groot risikos in die begin en sy is reggemaak vir die teater. ‘n Bloedklont is ontdek in die operasie en verwyder.

‘n Sonar is weer gedoen, steeds geen bloedvloei, en terug operasie tafel toe. Weer is ‘n klont ontdek en verwyder. Medikasie is gebruik om die bloed te verdun en so bloedvloei te bevorder maar dit het weer ander komplikasies gehad dat sy maklik aan die bloei kon gaan en nie die bloeding kon stop nie. Hulle moes dus eers wag dat die uitwerking daarvan verminder voor hulle weer kom opereer. Nog ’n sonar is daarna geneem – weer geen geluk.

Terug vir ‘n derde keer en na die operasie (4:00 Donderdag oggend) is besluit om ‘n paar uur te wag met die volgende sonar. Om 7:30 is dit gedoen en steeds was daar nie bloedvloei nie. In die vierde operasie na die oorplanting, het die dokters egter besluit om eers die sonar direk op die aar te toets, wat toe gewys het die bloedvloei is daar. Hulle het toegewerk en besluit om verder die bloedvloei te volg deur middel van die bloedtoetse.

Die ventilator is Donderdag afgehaal na sy baie sterk self asem gehaal het. Sy was reeds baie op en wakker en klaar moeg vir al die bedlê. Bennie en Retha het selfs nou en dan ’n glimlaggie gekry. Izandri het beter gevorder as wat verwag is. Een van die driplyne in haar nek is Saterdag verwyder (na ‘n skrik sessie waar dit uitgetrek het van al die woel en redelik gebloei het voor dit gestop is).

Sy het ook bietjie melk begin drink wat gedui het dat dinge in die regte rigting beweeg. Sy het weer ‘n sonar gehad wat daarop gedui het dat daar wel bloedvloei in al die are was. Dit was wel baie stadig en flou, maar dit was daar. Die medici het gesukkel om haar bloeddruk af te hou, aangesien dit die hoogte ingeskiet het as gevolg van die “teen-verwerping”-medikasie wat sy ontvang. Haar kateter is ook die Sondag verwyder.

Teen 5 Februarie was Izandri verskuif uit die intensiewe sorgeenheid na die gewone saal. Sy was steeds in ‘n kamer van haar eie want die risiko van infeksie was baie hoog. Net die feit dat sy uit was het almal meer gerus laat voel. Sy het baie goed gelyk en haar longe baie oefening gegee as die verpleegpersoneel naby gekom het. Sy laat hulle goed laat verstaan hoe sy voel as hulle om haar iets doen, maar dit was alles goeie tekens.

Izandri was baie vatbaar vir kieme en die dokter het dit baie duidelik gemaak dat Bennie en Retha vir die volgende jaar nog op “high alert” sou wees. Izandri mag nie naby groepe mense kom nie, ook nie iemand wat siek lyk nie en sover moontlik net naby familie. Dit sou baie moeilik wees maar geen kanse kon gewaag word nie. Tussen alles deur was sy nog besig om tande ook te kry - so sy eet haar vingers en speelgoed op. Die belangrikste was dat Izandri al ’n week oppad was in haar nuwe lewe!

Woensdag 7 Februarie was Izandri vol lewe en Bennie en Retha het hulle dae gehad om die pype wat oor is uit Izandri se hande te hou. Donderdag het sy weer vir ‘n sonar gegaan om seker te maak alles lyk reg. Vrydag moes sy teater toe vir ‘n prosedure waar die pyp in haar nek sou vervang met ‘n meer permanente een in haar bors. Intussen het die omstandighede vir Bennie en Retha so verander dat hulle geen keuse gehad het as dat Retha in die Kaap moes agterbly om by Izandri te wees terwyl Bennie en Benré tussen die Kaap en Johannesburg sou vlieg nie.

Die verhuringseiendomme het kontrakte van minstens ’n jaar gehad en die gastehuise is of volgeboek of het buitensporige tariewe want dit was piekseisoen. Daar was verblyf beskikbaar in areas verder weg maar een van die bekommernisse was veiligheid aangesien Bennie binnekort moes terugkeer Johannesburg toe en dan moes Retha alleen in die aande rondry. Hulle moes dringend verblyf vir Retha kry wat verkieslik naby die hospitaal was. Toe hulle nood aan die gemeente bekend geword het, was dit asof nog ’n wonderwerk gebeur. Binne enkele dae het iemand in die gemeente hulle gehelp!

Op Saterdag, 10 Februarie was Izandri opgeneem in die Intensiewe Sorgeenheid. Dit het voorgekom asof sy infeksie opgedoen het. Omdat dit dadelik die lewer aantas was die dokters oorversigtig en hulle behandel dit dadelik aggressief as daar sulke tekens is. Sy het sleg gevoel die Saterdag aand, maar is egter Maandag terug na haar kamer in die algemene saal en het weer gelukkig gelyk. Die infeksie het haar bloedvlakke geaffekteer maar dit het weer opgetel. Verder het Izandri gespeel en gelag en was sy weer op die herstelpad.

Teen 14 Februarie was Bennie terug in Johannesburg. Die afstand het alles baie moeilik vir hom gemaak. Ouma en Benre sou die volgende dag afvlieg Kaap toe om vir ‘n kort rukkie te kuier terwyl Bennie afgery het. Dit was 3 weke sedert Retha laas vir Benré gesien het. Die opwinding was baie groot!

Op 22 Februarie het Izandri elke dag al hoe gelukkiger gelyk. Haar melk is verander en die vaste kos na sekere tipes Purity. Al die bloeduitslae was egter nog baie positief en dit het gelyk asof haar liggaam oor die infeksie van vroeër was. Dit was baie moeilik vir die Nel-familie wat verdeel was deur ’n reuse afstand. “...maar dit is ‘n klein prys vir alles wat sover so goed gegaan het. Nou is dit die proses van toetse, reageer op probleme en alles so stabiel moontlik hou tot almal kan huis toe kom” het Bennie laat weet.

Teen 9 Maart het Bennie laat weet, het hulle behoorlik ‘n rowwe tyd gehad met rondhardloop tussen twee huishoudings en opvang by die werk. Izandri het hulle steeds verras met hoe goed sy vorder. Sy het konstant gevorder en vir die laaste twee weke en was hoofsaaklik gemonitor deur die bloedresultate en medikasies wat aangepas was. Izandri het ‘n verkoue gehad, loopneus en toegetrekte bors, maar het steeds elke dag geglimlag. “Sy draai almal om haar pinkie en dring aan om die middelpunt van aandag te wees as iemand in die kamer is. Selfs die hoof van die hospitaal was al een of twee daar om te sien hoe gaan dit met die vriendelike baba” het Retha laat weet.

Daar is gehoop dat Izandri uit die hospitaal onslaan sou word, nog nie om terug te kom Johannesburg toe nie, maar net om tuis te kon wees. Sy sou elke dag moes teruggaan vir antibiotika en bloedtoetse, maar dit sou ’n stap in die regte rigting wees. Dit was net vir die dokters om te besluit of hulle haar wou laat gaan met die virus nog in haar gestel. Dit het natuurlik ander bekommernisse na vore gebring. Aangesien haar immuunstelsel steeds swak was kon sy nie naby mense toegelaat word nie. Dit het beteken: geen winkels nie, selfs nie eers om kruideniersware te gaan koop nie, gesigmasker wanneer sy hospitaal toe gaan en oor die algemeen paranoies wees oor enigiets wat sou lyk asof dit probleme kon veroorsaak.

Teen 16 Maart het Izandri egter begin diarrhea kry na die verkoue virus. Die dokter wou haar nie ontslaan voor dit uitgesorteer was nie, en vir ‘n paar dae was dit “trial and error” om te probeer uitvind wat dit veroorsaak het. Haar bloedresultate het niks buitengewoon gewys nie, behalwe dat haar rooibloed telling afgeneem het. Uiteindelik het hulle haar bottel heeltemal weggevat en haar weer binneaarse voeding begin gee. Dit was baie teleurstellend aangesien dit ‘n tree terug beteken het.

Hulle het beplan om vir haar bloedaanvullings te gee maar gelukkig het die tellings weer opgetel en dit was nie nodig nie. Uiteindelik het dit gelyk asof dit die melk was wat die probleme veroorsaak het want die diarrhea het begin opklaar. Hulle het haar terugfaseer na die melk wat sy gehad het net na die operasie. Na ‘n op en af en somtyds traumatiese week, het dit gelyk asof alles weer gestabiliseer het.

Die groot probleem was die port wat ingeplant was in Izandri ‘n ruk gelede en veronderstel was om dit makliker te maak om medikasie te gee en bloed te trek. Dit het egter van die begin af probleme gegee wat gelei het tot laas naweek waar dit glad nie meer gebruik kon word nie en dit nodig was om ‘n drip in te sit.

Die probleem is dat omdat haar are so klein is, is dit ‘n groot gesukkel om ‘n aar te kry om te gebruik, met die gevolg dat sy omtrent twaalf steekplekke in een dag opgedoen het en ‘n baie traumaties ondervinding vir almal was. Daar was toe besluit om haar terug te vat teater toe om te kyk na die port en die probleem reg te maak. Die uiteinde was dat die port heeltemal verwyder is en ‘n broviac lyn ingesit is. Sedert die lyn gebruik is was die bloedtrek en gee van medikasie ’n plesier.

Die middag van 23 Maart is Izandri ontslaan. Al die indikators het goed gelyk. Hulle kon nou huis toe gaan en net daagliks inkom vir die bloedtoetse en anitbiotika. Dit was nog ‘n groot stap vorentoe. Uiteindelik was dit ‘n ander omgewing na amper twee maande in die hospitaal en kon hulle uitsien na ‘n goeie, volledige nagrus.

Ongelukkig was dit waar die goeie nuus opgehou het. Izandri het in die week wat daarna gevolg het, inwendig begin bloei. Toe sy vir die daaglikse besoek gegaan het was haar stoel getoets en is bevestig daar was bloed daarin. Nie ‘n lewensgevaarlike hoeveelheid nie, maar dit was daar. Niks kon gedoen word oor die naweek nie, so Maandag is sy vir ‘n “scan” gevat. Dit het nie veel gewys nie behalwe dat ‘n netwerk klein aartjies gevorm het. Dit het beteken die hoof aar na die lewer was geblok, en die liggaam was besig om te probeer kompenseer daarvoor. Dit kon baie ander moontlike verwante probleme veroorsaak.

Sy was die Maandag weer ingeboek in die hospitaal en reggemaak vir ‘n “scope” wat Donderdag sou gebeur. In daardie tyd het sy ook ‘n klein bloedoortapping gekry, maar al die ander lewer resultate het nog goed gelyk. In die “scope” is daar toe opgetel dat een van hierdie klein aartjies begin lek het. ‘n Vloeistof is ingespuit om die aar te seël en die bloeding te stop. Dit het gelyk asof slegs die een aar bloei, maar daar was geen waarborg dat dit die engiste een was of dat dit nie weer sou gebeur nie. Izandri was terug in in die hospitaal en het addisionele anitbiotika gekry na die “scope”. Kanse dat sy binnekort ontslaan sou word was min. Vir Bennie en Retha was dit bietjie van ‘n depressiewe week.

Hulle het besef dat die op en af nog vir ‘n tyd sou aanhou en dat hulle alles dag vir dag sou moes vat. Bennie en Benré het Saterdag 7 April afgevlieg Kaap toe. Op daardie stadium het dit gelyk of die probleme met die bloedvloei gestabiliseer het. Haar bloedresultate het egter in sekere areas begin agteruit gaan. Die dokters het eers gedink dit is ‘n lewervirus en dit so behandel.

Ongelukkig is dit ‘n algemene probleem met lewer oorplantings aangesien die virus oorgedra word vanaf die skenker, maar dit is steeds ernstig aangesien hierdie virus uiteindelik kanker kan veroorsaak. Die ander moontlikheid was dat sy begin het om die lewer te verwerp, maar dit was nie seker nie. Dit het gely tot ‘n biopsie wat 11 April gedoen is om ‘n monster van die lewer te vat sodat ‘n meer detail ondersoek gedoen kon word oor wat besig was om te gebeur. Die resultate daarvan sou eers oor 3 dae beskikbaar wees.

Saterdag 7 April het Bennie en Retha die kans gevat om te probeer uitkom en ‘n maaltyd te geniet terwyl haar familie daar was om te help met die kinders. Voor hulle by die ete kon kom, was haar handsak gesteel met die kamera daarbinne. Haar identiteitsdokument, bestuurslisensie en kaarte was gesteel en moes vervang word. Te midde van alles moes die versekering ook nog uitsorteer word. Hulle het nie geweet wat die resultate sou oplewer nie en waarheen hulle oppad is nie.

Uitwendig het Izandri wonderlik gelyk maar binne het sy ‘n paar ernstige bekommernisse gehad. Alhoewel die mediese fonds voor die tyd bevestig het dat die kostes vir die oorplanting gedek sou word, was daar baie ander kostes waarop hulle nie gereken het nie. Die huurgeld vir verblyf, vlugte en addisionele kostes om effektiewelik ‘n tweede huis te onderhou, het baie geverg. Retha moes effektiewelik haar inkomste prysgee om by Izandri te bly. Selfs nie in enigeen se beste begroting kan jy voldoende voorsiening vir sulke buitengewone omstandighede maak nie.

Die bloeduitslae het uiteindelik daarop gewys dat die virus besig was om terug te trek. Bennie en Retha was amper te bang om bly te wees aangesien dit voorheen ook gedaal het maar weer opgetel het, maar ten minste het dit gelyk of dit daardie keer ‘n groot daling was. Die antibiotika was hopelik besig om te werk. Izandri was nou net elke tweede dag getoets om te verhoed dat sy te veel bloed verloor word deur die bloedtoetse. Sy het ook weer met vaste kos begin en die melk is verhoog omdat sy nie gewig optel soos verwag nie.

Intussen het iemand Retha se identiteitsdokument en bestuurderslisensie opgetel en aan aar gepos terwyl hulle in Kaapstad was. Nog ’n wonderwerk! Die tyd wat daarna gevolg het tot 7 Mei was op en af. Die virus waarmee Izandri gestoei het, blyk uiteindelik oorkom te wees en haar bloedtellings was amper terug na normaal. Sy het egter ‘n infeksie iewers opgetel wat of maklik behandelbaar is, of na iets erger kan wys, maar dit sou afhang van toetse wat die volgende week gedoen moes word.

Izandri se melk is verander na ‘n formule met meer proteine en energie, maar dit verg meer werk van die liggaam om dit af te breek en op te neem. Sy het die verandering goed gevat en konstant gewig opgetel wat gehelp het met die herstel. Na ‘n redelike bestendige tyd is Izandri teen 1 Junie ontslaan uit die hospitaalkamer en het sy net elke dag teruggegaan om medikasie te kry (twee keer per dag). Al die resultate het goed gelyk. Sy was al ‘n yslike 9 kg. Die verwagting was dat dit ten minste ‘n maand sou wees voor daar gedink kon word om haar huis toe te stuur, indien nie langer nie.

Die onstuimige tyd was baie moeilik vir die familie en hulle kon nie wag om terug te kan gaan na ‘n bietjie normaliteit nie. Om te kon sien hoe gelukkig Izandri was, het alles vir hulle die moeite werd gemaak. Teen 11 Julie was almal uiteindelik terug in Johannesburg. Die dokters by die Rooikruis het besluit dat alhowel Izandri se bloedvlakke nie presies was waar dit moes wees nie, dieselfde sorg aan haar in Johannesburg gegee kon word.

Sedertdien was Bennie en Retha besig om op te vang met van die dinge wat agtergebly het die laaste paar maande. Net voor Izandri ontslaan was, het die virus wat al die probleme veroorsaak het om haar in Kaapstad terug te hou, weer opgevlam. Retha neem Izandri elke dag na die kliniek naby hulle huis vir die drip en medikasie. Die virus het substantiaal toegeneem sedert hulle terug is by die huis, wat aan hulle groot kopsere gee. Afgesien daarvan, lyk Izandri perfek en is ‘n baie gelukkige klein dogtertjie.

Bennie en Retha geniet nou elke oomblik van plesier wat Izandri vir hulle gee en probeer vergeet van die probleme wat die virus mag veroorsaak in die toekoms. “Ons wil graag almal bedank vir hulle volgehoue ondersteuning gedurende hierdie moeilike tyd. Met alles wat gebeur het, is dit steeds verbasend om te sien waar ons vandag is en hoe baie dinge in plek geval het wat nie net toeval kon wees nie. Groete. Bennie, Retha, Benré & Izandri”


Die e-posse van Bennie en Retha kan hier gelees word.
Hier is ook meer inligting oor lewer-oorplantings.

Doen asseblief ook voorbidding vir die volgende persone

Indien jy graag aan Bennie & Retha Nel 'n sms wil stuur, is jy welkom!

STAP 1 Tik jou boodskap, meld van wie dit kom met jou selnommer.
Boodskap
Die boodskap kom van: [maksimum 10 karakters]
Jou selnommer: bv 0833855526
STAP 2 Stel die sms saam en sien hoe die boodskap sal lyk.
 
STAP 3 As jy nie tevrede is nie, gaan terug na STAP 1. As jy tevrede is met die boodskap, stuur dit. 'n Bevestiging sal verskyn dat die boodskap suksesvol gestuur is.
 
 
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees"