Skip Navigation Links
Dagboek
Fondsinsameling
SMS Boodskap
Gebedsversoeke
Projek Prisma
Dringende hulp benodig
Kursusse
Brandpunt
Interessante skakels
 PERSOONLIKE GETUIENISSE

Lees hier die merkwaardige verhaal van Izandri en die getuienis van Bennie en Retha.



"Gedurende Desember was ek vir ‘n maand lank in die hospitaal met ondraaglike pyn, lamheid, onsekerheid en baie vrae. Verskeie dokters het rondgeskarrel om honderde toetsuitslae te verwerk en by ‘n diagnose uit te kom. Ook hulle was onseker en vol vrae.

My geesmens het in die tyd die vlees oorheers. Ek het meer en meer bewus geword van God se almag, Jesus se bloed en die Heilige Gees se teenwoordigheid by en in my. Vir ‘n maand het ek ‘n afspraak gehad in God se hoësorgeenheid. Gedurende die tyd het die Heilige Gees my bewus gemaak van onafgehandelde hoofstukke uit my verlede en hede.

Ek moes skoonmaak, bely, vergewe, vryspreek, vrede maak en aanvaar en Hom toelaat om diep binne my hart, genesing te bring. Wat ‘n goddelike voorreg was dit nie! Ek het besef dat my gejaagde lewe my van dié soort stil word voor God, beroof het.

Nadat die dokters my uiteindelik gediagnoseer het met ‘n verlammende senuweeweefsel siekte, het ek God se diagnose meer geglo – skoongewas, vrygekoop, genees en nuutgemaak in Jesus ! Ek loof en dank God vir Sy hand wat die snoeiskêr so delikaat in my lewe gebruik. Hy Leef! "
Zelda Clack

 

"Ons pragtige meisiekind is op 28 Desember 2005 om 16:21 gebore, 7 weke te vroeg met groeivertraging vanaf 28 weke. Sy het maar net 1.26kg geweeg en die Pediater wat haar behandel, het ons voorberei op die ergste.

Die dokter het gesê sy is kritiek maar stabiel en dat die eerste 24 uur die belangrikste tydperk is en daarna nog 48 uur. Ooorleef sy dit is dit daarna ‘n dag tot dag paadjie wat ons sal moet loop, die Dr het ons met haar geboorte voorberei op ‘n tydperk van 2 – 3 maande in die intensiewe eenheid.

Die eerste keer wat ons haar gesien het in die intensiewe eenheid was die skok groter as wat ons kan beskryf, ‘n miniatuur lyfie nog nie gereed om mens te wees en die wêreld te aanskou nie. Ons het baie angstig gevoel en dit is ‘n angstigheid wat net nie wou weggaan nie. Elke keer wat die foon gelui het, was ons bang dis dalk slegte nuus. Met elke rit hospitaal toe, het dit gevoel of ‘n vuis jou hart vasdruk, so angstig is jy. As ons by intensiewe eenheid ingestap het, het ons onmiddellik eers gekyk of sy nog in haar bedjie lê en dan het ons vinnig deur die eenheid "gescan" om seker te maak al die ander babas wat ons met die tyd leer ken het, is ook nog daar. Om met leë hande van die hospitaal huis toe te gaan was hartverskeurend en dit het gevoel asof ons harte agterbly in die intensiewe eenheid.

Ons het besef dat dit ‘n pad is wat ons nie op ons eie sal kan stap nie, en ons het deur gebed daagliks langs haar bedjie met die Here gepraat en gevra dat Hy haar asseblief sal bewaar en Sy wakende Hand oor haar sal hou. Ons het besef dat ons lewe hierna nooit weer dieselfde sou wees nie.

Ons het vir familie en vriende, asook die Kerk gevra om almal haar in gebed aan die Here op te dra. Ons was verstom dat so ‘n klein mensie so baie mense nader aan God kon bring in gebed en dat ons soveel ondersteuning van verskillende oorde gekry het. Vandag besef ons dat ‘n mens nooit die krag van gebed moet onderskat nie. Met God se Genade het Inge vanaf dag een merkwaardig gedoen. Die dokter asook die Susters wat na haar omgesien het, het telkemale na haar verwys as ‘n wonderwerk, en dit is sy beslis.

Inge het elke dag net sterker geword en ons het dag vir dag, vir 42 dae by haar bedjie gewaak en gebid vir elke gram wat sy moet optel en elke mylpaal wat sy moet bereik. Met elke x-straal, sonar, oogtoets en gehoortoets was ons angstig en bekommerd en elke keer het sy geslaag.

Sy het almal so verstom dat almal aangeraak was oor elke klein triomf. Elke klein vorderinkie het ons ‘n dag nader gebring aan huis toe gaan en elke gram wat sy opgetel het, het haar nader aan 2kg gebring. Deur God se Genade het Inge nie een keer ‘n terugslag, soos infeksie of bloeding, gehad nie. Sy het nie een bloedoortapping nodig gehad nie. Sy was net twee en ‘n half dae op ‘n ventilator en twee addisionele dae op ekstra suurstof. Sy is ‘n piepklein wondertjie, wat nou nog popklere moet dra. Sy kon na vyf dae in die wêreld self asemhaal. Wat ‘n wonderwerk!!

Presies ses weke na haar geboorte, op 2.1kg, kon ons haar hierdie week huis toe bring. Nou is ons ‘n familie, en kan ons haar leer ken. Ons kan nie genoeg dankie se vir God se Genade, almal se voorbidding en ondersteuning, Erika Steyn se vermoë om te luister en al die bemoedigende boodskappe van die Barnabas groep, en vir die Susters in ICU wat soos Engele met eindelose geduld en liefde die piepklein wonderwerkie versorg het. Ons is so dankbaar dat God beskik het dat sy moes leef."

Hendrik en Karen Schoeman

 

Hoe kan jy ander help?
 
Naam Epos Selnommer
     





 
Kontakbesonderhede
KontakpersoonTelSelE-pos
Gideon Malan011-66214790824482417 epos
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees"