|
|
"NUWE DROME VIR NUWE WERKLIKHEDE" - DR NELUS NIEMANDT
|

Die boek beskryf die bedreigings
vir die evangelie in ‘n postmoderne tyd en ontbloot uitgediende kerklike maskers,
maar bied terselfdertyd op ‘n simpatieke manier nege vars geloofspraktyke wat gelowiges
in staat sal stel om daardie soort gelowiges te wees wat die Here in ‘n tyd soos
hierdie soek: mense wat nie kerk-kerk spéél nie, maar werklik kerk ís, soos die
vroeë kerk was.
Laai hoofstuk 1 hier af!
ISBN-13: 978-0796306326
Uitgewer: LUX VERBI BM
Dr Stephan Joubert se belewing van die boek
Nelus Niemandt is een van die invloedrykste denkers en missionêre Suid-Afrikaanse
teoloë aan die begin van millennium drie. Sy insigte in ingewikkelde sosio-religieuse
vraagstukke is asemrowend, sy nederigheid aansteeklik en sy vermoë om eietydse kontekste
en Bybelse kontekste op verstaanbare maniere aan mekaar te knoop, sonder weerga.
Daarom dat ek nie kon wag om hierdie boek te lees nie.
Wat ’n absolute juweel. Nuwe drome vir nuwe werklikhede is kop-oopmaak materiaal.
Dis propvol wêreldverskuiwende woorde! Nelus se verstaan van “Christenheid” en die
bedreiging wat dit inhou vir die evangelie, saam met ’n indringende profiel van
die post-modernisme en huidige kerklike gestaltes het my ure se genoegdoening verskaf.
Nelus vra egter nie net kritiese vrae terwyl hy uitgediende kerklike maskers op
meesterlike wyse rondom ons almal afhaal nie. Hy praat juis hooptaal deur nege vars
nuwe geloofspraktyke vir ontluikende kerke op ons etenstafel neer te sit. Ewe aangrypend,
oog-oopmakend en uitdagend is sy insigte in missionêre gemeentes in
die laaste hoofstuk
van die boek.
Nuwe drome vir nuwe werklikhede is sonder twyfel die belangrikste boek op die Suid-Afrikaanse
kerklike toneel oor die afgelope klompie jare. Dit is horison-verskuiwend en kontekstueel.
Dit is deurdag, simpatiek, ontblotend, gevaarlik, maar altyd goeie medisyne! Terselfdertyd
bied hierdie boek fantastiese hulpmiddels tot eksperimentering vir alle oopkop,
saamdinkende gelowiges, met stylvolle visuele toepassings en roerende verhale oor
ontluikende kerke.
Nuwe drome vir nuwe werklikhede het my kop van voor af geswaai. Dit is goed, groot
en groots! Nelus het goed daarin geslaag om die insigte van die mees invloedryke
eietydse denkers oor kerkwees in homself te internaliseer en op vars maniere te
verwoord! Hiermee saam het hy ’n klompie radikale nuwe insigte op ons elkeen se
kerklike voorstoep kom neersit.
Lees dit … en droom saam oor die kerk van die Here in die nuwe werklikhede wat voor
ons staan.

Meer oor die outeur...
Dr Cornelius Johannes Petrus (Nelus) Niemandt het aan die Universiteit van Pretoria studeer, reeds as studenteleier die aandag getrek, en in dogmatiek en etiek
gepromoveer met as proefskrifonderwerp Sosialiseringsmodelle vir die hantering van
multikulturaliteit teologies-eties beoordeel. Hy was as polisiekapelaan verbonde
aan die NG gemeentes van Triomf en Weltevreden, en dien later as gemeentepredikant
van Weltevreden.
Nelus het gou in die breër kerklike lewe ’n rol begin speel, en was aktuarius en
moderator van die Sinode van Suid-Transvaal (nou Hoëveld), en aktuarius van die
Algemene Sinode. Hy het ’n prominente aandeel gehad in die grootskaalse herstrukturering
van die algemene sinodale strukture in die vroeë 2000’s. Niemandt is bekend vir
sy gematigde benadering in kerklike en teologiese sake.
|
|
|
|
|
|
|