Skip Navigation Links
Dagboek
Fondsinsameling
SMS Boodskap
Gebedsversoeke
Projek Prisma
Dringende hulp benodig
Kursusse
Brandpunt
Interessante skakels
"TIENERS, DWELMS EN MISDAAD..."

Direkteur Piet Byleveld
Maak 'n nota in jou dagboek!

Direkteur Piet Byleveld kom gesels met ons gemeente op 24 Oktober 2007 om 19:00 in die NG Weltevreden kerk tydens 'n Brandpunt geleentheid, oor die tema: "Tieners, dwelms en misdaad..." Hy deel met ons sy jarelange ervaringe as speurder en gee wenke hoe om die euwel te identifiseer, voorkom en te bestry.

As jy meer wil weet oor dwelmmisbruik, kan jy gerus hier meer daarvan lees.

Meer oor hom...

Piet Byleveld dien al vir 36 jaar in die polisie waarvan 32 in sy hoedanigheid as speurder is. Hy is op 27 September 2007 bevorder tot direkteur in die polisie - gelykstaande aan die amp van brigadier in die ouer bedeling. Hierdie baasspeurder word met reg beskou as een van die beste speurders ter wereld. So lyk 'n deel van sy suksesrekord:

  • 1991 – Byleveld behaal 100%-sukses in die oplossing van ’n reeks moorde op polisiemanne
  • 1994 – Byleveld los die reeksmoorde van twee verdagtes op wat tronk toe gestuur is. Antonie Wessels is die doodstraf opgelê
  • 1995 – Samuel Bongani word skuldig bevind en 122 jaar tronkstraf opgelê weens ’n reeks moorde
  • 1995 – Lazarus Mazingane, die Nasrec-reeksmoordenaar, is 17 keer lewenslange en 781 jaar gevangenisstraf opgelê vir 16 moordklagte en 22 verkragtings
  • 1995 – Cedric Maake, die Wemmerpan-reeksmoordenaar, is 27 keer lewenslange tronkstraf en ’n bykomende 100 jaar gevangenisstraf opgelê vir 27 moorde, 26 pogings tot verkragting, 14 verkragtings, 41 diefstalsake en altesame 11 klagte van poging tot diefstal
  • 2000-2001 – Simon Majola is agt keer lewenslange tronkstraf en 442 jare gevangenisstraf opgelê en Themba Nkosi is vyf keer lewenslange tronkstraf en 253 jaar tronk toe gestuur vir die Brumameer-moorde
  • 2002 – Die kruisboogmoord van mev. Sibille Zanner. Haar man is verbind met haar moord, asook die dood van mnr. Samuel Tumisang Segaets in 1992
  • 2004 – Donovan Moodley, Leigh Matthews se moordenaar, is lewenslange tronkstraf opgelê en ’n bykomende 25 jaar gevangenisstraf.
Daarbenewens het hy al verskeie dwelmverwante sake suksesvol oopgevlek en vervolg.

Met sy bevordering het hy sy suksesse toegeskryf aan die volgende resep:

  • Respekteer alle mense
  • Wees gemotiveerd en werk hard
  • Gee om vir jou gemeenskap
  • Deursettingsvermoë
  • Wees bereid om alles te gee om jou sake op te los
  • Om ’n polisieman te wees moet ’n roeping wees
  •  “Die belangrikste van alles is dat ek dit haat om te verloor".

 

GEDINK DWELMMISBRUIK VIND NIE IN ONS OMGEWING PLAAS NIE?....DINK WEER!!!

Hieronder volg uittreksels uit die Beeld van dwelmmisdrywe wat in ons onmiddelike omgewing plaasgevind het, so onlangs soos Mei 2007! Gelukkig, met die hulp en betrokkenheid van direkteur Piet Byleveld, kon dit stopgesit word.


Beeld:  10 April 2007

"Baasspeurder supt. Piet Byleveld en sy span het ’n “dwelmfabriek” in die Johannesburgse spogbuurt Northcliff oopgevlek – reg langs die huis waar ’n 18-jarige vrou enkele dae tevore vermoor is.

’n Moontlike verband tussen dié deurbraak en onlangse arrestasies in Sunninghill, in die noorde van Johannesburg, en Waterkloof, Pretoria, word ondersoek.

Veertien vermeende dwelmhandelaars wat moontlik met nasionale dwelmsindikate met tentakels in Johannesburg, Pretoria, Durban en Kaapstad verbind kan word, het gister afsonderlik in verskeie Gautengse howe verskyn.

’n Maande lange ondersoek het Sondagnag uitgeloop op die klopjag by die beweerde dwelmlaboratorium by ’n huis in Musili’s-rylaan in Northcliff.

Beeld verneem betroubaar dié dwelmhuis is langs die huis waarin die 18-jarige me. Natasha Snyman verlede week doodgeskiet is. ’n Huiswerker het op Snyman se lyk, met ’n koeëlwond aan die kop, in haar ouers se slaapkamer afgekom.

Sewe verdagtes is Sondag in die beweerde dwelmhuis gearresteer.

Supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, het gesê hulle het beslag gelê op dwelms, chemikalieë, buise en ander toerusting wat in die vervaardiging van dwelms gebruik word. Dit is sowat R500 000 werd.

Die sewe het gister vlugtig in die Johannesburgse landdroshof verskyn.

Mnre. Paul Goodwin (32), Lourens van Wyk (25), David Nitzan (37) en Johannes Alant (27), almal van Kaapstad, het saam met mnre. Regaardt Strauss (37) en Nicholaas Anamoirlis (25) en me. Tracy Muller (37), almal van Johannesburg, verskyn.

Hul borgtogaansoek is tot volgende week uitgestel. Hulle staan tereg op aanklagte van die besit, handel en vervaardiging van dwelms.

Terselfdertyd is borgtog in die Randburg-distrikshof aan vyf ander vermeende dwelmhandelaars toegestaan.

Byleveld se spesiale ondersoekspan het dié drie mans en twee vroue op 22 Maart by ’n huis in Sunninghill in hegtenis geneem.

Beeld verneem ’n moontlike verband tussen die Sunninghill- en Northcliff-sake word ondersoek.

Tik (crystals) en cat, asook R20 840 in kontant, is in die Sunninghill-huis gekonfiskeer.

Mnre. Paulo Costa da Silva (28) en Riaan Carelse (27) is gister vrygelaat nadat hulle borgtog van onderskeidelik R20 000 en R10 000 betaal het.

Borgtog van R20 000 elk is toegestaan aan mee. Bianca Gesualde (25) en Gabriella Grassi (31) en mnr. Rainier van der Vyver (23), ’n ontkleedanser, maar hulle bly in aanhouding. Dit is omdat nog verwante sake teen hulle hangende is nadat hulle glo kort ná hul inhegtenisneming met dwelms in die aanhoudingselle betrap is. Die drie verskyn môre op dié nuwe klagte in die Johannesburgse distrikshof.

Die dwelmsaak teen die vyf is ook weer op vandag se hofrol geplaas.

Benewens dié klagte verskyn Da Silva en Gesualde vandag op vroeëre dwelmaanklagte in die Randburg-distrikshof. Hulle was tydens hul arrestasie elk op R5 000-borgtog uit.

Twee mans van Pretoria, wat ook deur Byleveld se span aangekeer is, het in die Randburg-landdroshof voorgekom. Ook dié saak word volgens aanduidings met die Sunninghill- en Northcliff-sake verbind.

Mnre. Jason Demegeze (28) en Paul Kitzman (33) is twee dae ná mekaar by dieselfde adres in Waterkloof in hegtenis geneem.

Hulle staan onder meer tereg op aanklagte van poging tot moord, aanranding met die doel om ernstig te beseer en die besit van voorgeskrewe medisyne (bylae vier en vyf).

Byleveld, ’n gesoute moord-en-roof-speurder, het gister oor sy betrokkenheid laat val dat hy “sekere aspekte” ondersoek.

Opperman het gesê die moontlikheid word ook ondersoek dat verskeie uitsmyters by nagklubs in Johannesburg by dwelmhandel, -verspreiding en -geweld betrokke is.

 


 

Beeld: 10 Mei 2007

Die vierde dwelmsindikaat binne ’n maand is verlam toe die bekende speurder supt. Piet Byleveld en sy spesiale taakspan op ’n huis in Roodepoort, Johannesburg, toegeslaan en ’n “dwelmfabriek” vernietig het.

Die taakspan het Woensdagaand op dwelms en toerusting van R2,5 miljoen by ’n huis in Weltevredenpark beslag gelê.

Drie vermeende dwelmhandelaars is omstreeks 20:00 by ’n huurhuis in Lobeliarylaan gearresteer.

Die verdagtes, almal mans in hul veertigs, vervaardig glo “etlike maande” dwelms in ’n motorhuis in dié buurt, het supt. Eugene Opperman, polisiewoordvoerder, gesê.

Een van die mans is in die huis betrap waar hy met die vervaardiging van die dwelm Tik besig was.

Sy twee makkers, wat nie tuis was nie, het in die polisie se hande ingeloop toe speurders hulle rondom die huis ingewag het.

Speurders het op ongeveer 5 kg Tik in vloeistof- en poeiervorm beslag gelê.

Opperman sê ’n “hele gemors” chemikalieë wat van verfstropers tot karbonaat insluit, is saam met ’n verskeidenheid laboratoriumtoerusting gevind.

’n Vierde vermeende dwelmhandelaar wat vermoedelik bande met die Roodepoort-dwelmbende het, is ’n paar uur later in Johannesburg in hegtenis geneem toe ’n tweede klopjag uitgevoer is.

Die 27-jarige man is gistermiddag by sy huis in die suide van die stad gearresteer.

Die vier mans sal Maandag in die Roodepoort-landdroshof op aanklagte van dwelmhandel verskyn.

Die taakspan, onder aanvoering van Byleveld, het oor die Paasnaweek 14 mense tydens drie dwelmklopjagte in Sunninghill, North-cliff en Waterkloof, Pretoria, gearresteer.

’n “Dwelmfabriek” in die spogbuurt Northcliff is reg langs die huis waar die 18-jarige Natasha Snyman in April doodgeskiet is, oopgevlek.

Opperman sê die inhegtenisnemings is deel van ’n maande lange ondersoek waarvan uitsmytersgeweld in nagklubs, dwelmhandel en dwelmverspreiding die kern vorm.

“Van die verdagtes word direk verbind met die Elite-uitsmytersgroep,” het Opperman gesê. Dié groep word ook by die Kebble-moord geïmpliseer.

 

Noodkreet van 'n bekommerde ouer...

"Supt. Piet Byleveld se boodskap oor dwelms en drank moet ernstig opgeneem word. Ouers moet méér betrokke raak by hulle kinders én meer bewus wees van dwelm- en drankmisbruik se tekens. My seun het in my huis gewoon en vir byna 10 jaar elke denkbare dwelmmiddel gebruik voordat ek besef het wat aangaan. Dis byna te laat om die skade te herstel. Rehabilitasie kos geld, en die harde werk begin eers daarna. Om skoon te bly is ’n lewenslange stryd." - bekommerde ouer, Richardsbaai. 
"Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies en doop hulle in die naam van die Vader, Seun en Heilige Gees"