|
|
|
DIE BELYDENIS VAN ATHANASIUS |
Vir elkeen wat salig wil word, is dit in die eerste plek nodig dat hy die algemene
geloof moet vashou.
As iemand dit nie heeltemal en ongeskonde bewaar nie, sal hy sonder twyfel ewig
verlore gaan.
Die algemene geloof is: Ons moet die een God in die Drieheid en die Drieheid in
die Eenheid eer, sonder om die persone te vermeng of die wese te deel.
Want die persoon van die Vader is 'n ander, dié van die Seun is 'n ander, dié van
die Heilige Gees is 'n ander.
Tog het die Vader en die Seun en die Heilige Gees een Godheid, gelyke eer en gelyke
ewige heerlikheid.
Soos die Vader is, so is ook die Seun en ook die Heilige Gees.
Die Vader is ongeskape, die Seun is ongeskape, die Heilige Gees is ongeskape;
onmeetlik is die Vader, onmeetlik is die Seun, onmeetlik is die Heilige Gees;
die Vader is ewig, die Seun is ewig, die Heilige Gees is ewig.
Nogtans is daar nie drie ewiges nie maar een Ewige, net soos daar ook nie drie ongeskapenes
of drie onmeetlikes is nie maar een Ongeskapene en een Onmeetlike.
Eweneens is die Vader almagtig, die Seun almagtig, die Heilige Gees almagtig; en
tog is daar nie drie almagtiges nie maar een Almagtige.
So ook is die Vader God, die Seun God, die Heilige Gees God;
en tog is daar nie drie gode nie maar een God. Net so is die Vader Here, die Seun
Here, die Heilige Gees Here;
en tog is daar nie drie heres nie maar een Here.
Want soos ons deur die Christelike waarheid gedwing word om elke Persoon afsonderlik
God en Here te noem, word ons ook deur die algemene geloof verbied om drie gode
of heres te bely.
Die Vader is deur niemand gemaak of geskep of gegenereer nie;
die Seun is deur die Vader alleen nie gemaak of geskep nie maar gegenereer; die
Heilige Gees is deur die Vader en die Seun nie gemaak of geskep of gegenereer nie,
maar gaan van Hulle uit.
So is daar dan een Vader, nie drie vaders nie; een Seun, nie drie seuns nie; een
Heilige Gees, nie drie heilige geeste nie.
En in hierdie Drieheid is daar nie eerste of laaste nie, nie meeste of minste nie,
maar al drie Persone het gelyke ewigheid en is heeltemal aan mekaar gelyk, sodat
in alle opsigte, soos hierbo gesê is, die Eenheid in die Drieheid en die Drieheid
in die Eenheid geëer moet word.
Wie dus salig wil word, moet so oor die Drie-eenheid dink. Maar vir die ewige saligheid
is dit nodig dat hy ook getrou aan die menswording van ons Here Jesus Christus moet
glo.
So is die regte geloof dan: Ons glo en bely dat ons Here Jesus Christus, die Seun
van God, tegelyk God én mens is.
Hy is God uit die Wese van die Vader, voor alle tye gegenereer, en mens uit die
wese van sy moeder, in die tyd gebore; volkome God, volkome mens met 'n redelike
siel en menslike vlees, na die Godheid aan die Vader gelyk, na die mensheid minder
as die Vader.
En alhoewel Hy God en mens is, is Hy nogtans nie twee nie, maar een Christus.
Hy is een, nie deur verandering van die Godheid in die vlees nie, maar deur die aanneming
van die mensheid in God.
Hy is in alle opsigte een, nie deur vermenging van die wese nie, maar deur die eenheid
van die Persoon.
Want soos die redelike siel en die vlees een mens is, so is God en mens een Christus,
wat ter wille van ons saligheid gely het, na die hel neergedaal het, op die derde dag uit die dood opgestaan het, na die hemel opgevaar het en aan die regterhand van God, die almagtige Vader, sit.
Daarvandaan sal Hy kom om die lewendes en die dooies te oordeel. By sy koms sal
alle mense, met hulle liggame, opstaan en van hulle eie werke moet rekenskap gee.
En die wat goed gedoen het, sal die ewige lewe ingaan, maar die wat sonde gedoen
het, in die ewige vuur.
Dit is die algemene geloof; en as iemand dit nie getrou en vas glo nie, sal hy nie
salig kan word nie.
Amen |
|
|
|